Sunday, 9 June 2013

'n HEERLIKE HOENDER LASAGNE- PERFEK VIR 'n KOUE WINTERSNAG

Met die yskoue aande wat die laaste week vir ons na verwarmers en snoesige komberse laat gryp het, het ek op soek gegaan na 'n lekker gereg wat my van binne af kon opwarm. Ek het toe hierdie fantastiese Ina Paarman resep vir hoender lasagne gevind en ek hoop dit laat jou versadig en gelukkig!

Ek het Ina se raad gevolg en voordat ek begin het, gekyk hoeveel lasagne velle ek in die oondskottel kon inpas. Ek het daardie getal met 3 gemaal (aantal lae van die lasagne). Toe moes ek die lasagne velle vir 10 minute in warm water laat lê sodat dit sag raak en ook my oond teen 180°C voorverhit.

Hier volg die lys van bestanddele wat ek nodig gehad het:
1 Heel skrophoender (ek het 'n gaar hoender by 'n winkel gekoop) wat in klein stukkies gesny is
250ml warm water - gebruik 'n ekstra 125ml water as die hoender baie droog is
1 Eetlepel Ina Paarman's Chicken Stock Powder
1 Teelepel Ina Paarman's Lemon and Black Pepper Seasoning
125ml Vars, laevet melk
Ongeveer 200g lasagne velle (ek het die spinasie pasta gebruik)
1 Bottel 400g Ina Paarman's Creamy Cheese Pasta Sauce
125ml Pietersielie, fyn gekap
1 Houer 250g, vetvrye, gladde geroomde maaskaas
1 Eier

Bolaag
125ml Gerasperde parmesaankaas
1 Eetlepel olyfolie
125ml Sagte wit broodkrummels

Nadat ek my lasagne velle in die warm water geplaas het, het ek eerstens 'n groot mengbak geneem en die stukkies hoender en warm water daarin gemeng. Daarna het ek die Stock Powder, Seasoning en pietersielie bygevoeg en oit opsy gesit.

Ek moes die lasagne velle na 10 minute uit die water haal en op droë vadoeke los om bietjie droog te raak. Intussen het ek 'n tweede mengbak geneem en die Creamy Cheese Pasta Sauce daarin gesit. Ek het een oog op my horlosie gehou. Toe het ek die melk in die leë bottel gegooi, dit toegemaak en geskud sodat ek al die kaassous daaruit kon kry, en by die Creamy Cheese Pasta Sauce in die bak gevoeg. Nou moes ek die maaskaas en die eier daarby inmeng om die mengsel te verdun.

Die oondskottel wat ek gebruik het, was 30cm by 24cm.  Die tyd het toe aangebreek om die lasagne se lae te begin vorm. Ek het begin deur 'n kwart van die kaassousmengsel  in die skottel te plaas, 'n lagie pastavelle daarop te sit, gevolg deur 'n lagie van die hoendermengsel en dan nog 'n kwart van die kaassousmengsel. Hierdie stappe moes ek 2 maal herhaal en dit afeindig met 'n lagie van die kaassousmengsel.  

Nou moes ek die bolaag meng. Ek het al die bestanddele hiervoor bymekaar gemeng en toe oor die kaassousmengsel gestrooi.

Die gereg moes vir 35 minute bak, maar ek het gevind dat dit ongeveer 45 minute in my oond nodig gehad het om lekker goudbruin te word.

Die les wat ek hieruit geleer het is, dat jy altyd jou gereg uit die oond moet haal en kyk of dit regdeur gebak het. Ek het my dis op 'n eetkamertafel, voor 'n paar van my vriende  neergesit en 'n porsie  vir iemand uitgeskep. Aangesien dit nie lank genoeg gebak het nie, was dit nog loperig en moes ek dit vinnig, met rooi gesig, terugneem en verder bak.  Ek hoop jy kan uit my fout leer!


2 comments:

  1. *Ek is mal oor lasagne en is juis opsoek na 'n goeie resep daarvoor. 'n Vriendin het lasagne nou die dag gemaak en was lekker gewees maar ook "plain." Ek sal hierdie resep uittoets hierdie lang naweek. Hopelik sal dit reg uitkom!

    ReplyDelete
  2. Let asb. op die volgende:

    1. "wat die laaste week vir ons na verwarmers" - wat ons die laaste week na verwarmers...
    2. "sodat dit sag raak" - sag kon raak

    ReplyDelete